HOE DOEN ONS OESSKATTINGS?
Soos in enige vrye mark stelsel, speel vraag en aanbod 'n baie belangrike rol in die vasstelling van die prys vir produkte. Oesskattings verskaf die aanbodkant van die mark en word deur SAFEX gebruik om die prys van graan te bepaal.
Oesskattings word maandeliks deur die Oesskattingskomitee (‘Crop Estimates Committee’ (CEC)) van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling aangekondig. Die NOK baseer hul skatting op die insette van verskeie inligtingverskaffers, maar in 2006 is die Produsent-Onafhanklike Oesskattingstelsel (‘Producer Independent Crop Estimates System’ (PICES)) aanvaar as die maatstaf vir alle oppervlakteskattings in Suid-Afrika.
Deur die CEC is 'n tender toegeken vir die ontwikkeling van 'n statisties-gebaseerde stelsel om die totale produksie van graan in die land te bepaal. Die tender is in 2002 toegeken aan die Nasionale Oesskattingskonsortium (‘National Crop Statistics Consortium’ (NCSC)) bestaande uit die Landbounavorsingsraad, Geoterraimage en SiQ.
As deel van die NCSC-mandaat om die stelsel voortdurend te verbeter, was dit nodig om 'n stelsel te ontwikkel wat onafhanklik van die produsent kan funksioneer, om meer objektief te wees. Dit het gelei tot die ontwikkeling van PICES in 2005. PICES is geïmplementeer na 'n suksesvolle loodsstudie wat in Gauteng provinsie uitgevoer is. Dit gebruik landerygrense wat gedigiteer is vanaf satellietbeelde, tesame met 'n punte raamwerk, om die oppervlakte objektief te skat wat beplant is met graangewasse. Dit is belangrik om daarop te let dat PICES slegs gebruik word vir die bepaling van hektare geplant. Daar word later in die spesifieke seisoen ‘n objektiewe opbrengsskatting opname gedoen deur die Landbounavorsingsraad om objektief die opbrengs per hektaar te bepaal.
Die stappe wat tydens die PICES-proses gevolg word, kan soos volg opgesom word:
Bepaal alle potensiële landerygrense vanaf satellietbeelde deur 'n proses genaamd digitering. Landerygrense is in alle provinsies in Suid-Afrika gedigiteer – altesaam meer as 12 miljoen hektare.
In die volgende stap word steekproef punte lukraak gekies om in die veld opgeneem te word. ’n Punte raamwerk van 45 meter by 45 meter word vir die totale provinsiale gebied opgestel. Punte wat buite landerygrense geleë is, word uit die steekproefpopulasie verwyder. Gedigiteerde landerygrense word gestratifiseer op grond van die waarskynlikheid om 'n teikengewas te vind; byvoorbeeld hoë-, medium- en laebewerking en spilpuntbesproeiing. Stratifikasie word gedoen om steekproefdoeltreffendheid te verhoog en sodoende koste te verminder. Meer steekproefpunte word gebruik in strata waar daar 'n groter waarskynlikheid is om teikengewasse te vind.
'n Lugopname van die steekproefpunte word gedoen. Tydens die lugopname word bepaal watter gewas geplant word in die land wat deur elke steekproefpunt verteenwoordig word. Hierdie opnames word gedoen deur 'n veldwaarnemingspan wat bestaan uit 'n vlieënier en 'n waarnemer in 'n helikopter. Die waarnemer is van die landbougemeenskap en is baie ervare om tussen verskillende gewasse, asook tussen droëland- en besproeiingsverbouing te onderskei. Die veldwaarnemer let op watter gewas by die steekproefpunt geplant word en of dit droëland of besproeiingsverbouing is. Bykomende inligting, soos versuipskade, word ook vasgelê. Benewens die data wat vasgelê word, neem die waarnemer ook foto's om meer inligting te verskaf oor die toestande in die veld tydens die spesifieke opname.
Gedurende die somerproduksieseisoen word PICES vir 6 provinsies gedoen, naamlik Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga, KwaZulu Natal, Noordwes en Limpopo. Gedurende die winterseisoen is Vrystaat en die Wes-Kaap ingesluit in die opname.